Click for Menu

         Home
  
GhoenasKraal Opleidingsentrum se misie is om gehalte opleiding op 'n praktiese en maklik- verstaanbare manier aan werknemers van wildplase te bied om sodoende die werknemers se werksvemoë en lewensgehalte te verhoog én om uiteindelik die standaard van dienste op wildplase te verbeter.

GhoenasKraal het gedurende 1994 hulle eerste opleidingskursus vir wildplaaswerknemers aangebied, gedryf deur 'n behoefte wat deur die destydse Transvaal Wildvereniging geïdentifiseer is.  Van 'n nederige begin met 'n jaggidskursus in tydelike-gehuurde fasiliteite en sonder enige hulpmiddels, het die sentrum gegroei en beskik dit vandag oor eie geboue en fasiliteite wat 32 kursusgangers op 'n keer kan huisves, voltydse onderigpersoneel, sewe verskillende kursusse wat aangebied word en 'n trotse rekord van vêr oor die100 opleidingskursusse en meer as 1500 wildplaas- werknemers wat reeds kursusse bygewoon het.

GhoenasKraal Opleidingsentrum is groot dank verskuldig aan die Noordelike Wildboer Organisasie, en dan veral aan twee voormalige voorsitters van die organisasie, Dr Dirk Neethling en wyle Jimie Malan, vir hulle ondersteuning oor die jare.  Alhoewel GhoenasKraal Opleidingsentrum onafhanklik opereer, is daar vandag steeds noue samewerking tussen die sentrum en die verskillende georganiseerde wildbedryfstrukture, en dan veral tussen die sentrum en die Noordelike Wildboer Organisasie.

Prof Piet du Plessis PhD MCom, 'n bekende en aktiewe lid van verskeie bedryfsorganisasies wat die natuurlike wildlewe van ons land dien en ook 'n voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Wildboerorganisasie, is die direkteur van GhoenasKraal Opleidingsentrum.  Dit is grootliks aan sy ywer en insette te danke dat die sentrum oor die jare gegroei het en steeds 'n gehalte en behoefte-gerigte diens aan die wildbedryf lewer.

Cornel du Plessis MSc, bygestaan deur Niel du Plessis BSc, koördineer die verskillende kursusse en is ook verantwoordelik vir die aanbieding van die meeste lesings.  Hulle word bygestaan deur kundiges soos Prof Theuns Eloff, Drs David Grossman, Wilhelm Schack, Dirk Neetling, Andrew van Zyl en Tertius Bergh, Mnr Lampies Lambrecht en andere. Die betrokkenheid van soveel kundige persone by die onderskeie kursusse verseker dat die gehalte van die onderrig absoluut hoogstaande is!

GhoenasKraal Opleidingsentrum besef hoe groot die behoefte na opleiding in die wildbedryf is en aanvaar ook dat hulle, met hul beperkte vermoë, nie alleen in hierdie behoefte kan voorsien nie.  

Die sentrum reik dan ook uit na ander opleidingsfasiliteite en wildorganisasies om opleidingsgeleenthede op 'n gedesentraliseerde basis in ander streke van stapel te stuur. Dit is dan ook met trots dat ons bekend kan maak dat ons vanjaar 'n reeks opleidingskursusse saam met die Natalse Wildboervereniging in hulle nuwe opleidingsentrum buite Pongola gaan aanbied.  Mnr Karel Landman is die dryfkrag agter die nuwe sentrum en kan op sy selfoon by 083 265 0937 gekontak word vir verdere inligting oor kursusse wat daar aangebied gaan word.

GhoenasKraal sal altyd streef om sy misie gestand te doen en om die wildbedryf van Suider-Afrika te dien en te bevorder. Ons is groot dank verskuldig aan almal wat op een of ander wyse 'n bydrae lewer dat ons hierdie strewe kan uitlewe.